Thursday 14 April 2016

Tyd staan nie stil nie

Die jaar 2016 is nou reeds in sy kleuterskoene. Skaars gebore en kan nou al loop. Ons opgewondenheid om vanjaar die Streekkonferensie hier in Bronkhorstspruit te kon hou, het lankal gaan lê. Net mooi herinneringe het oorgebly en dit word gekoester en bewaar.

Weke lank het ons gewerk en gewoel en voorbereidings getref. En nou is dit alles agter die rug. Ons kan dit skaars glo. Ons harte voel bly en dankbaar. Ons kan in alle eerlikheid sê dat elke lid van Van Riebeecktak met oorgawe en vol entoesiasme haar deel gedoen het. Ons aanbieding was 'n sukses! Alle eer aan ons Hemelse Vader wat elke lid met unieke talente geseën het. Ons kon voorwaar ten volle uiting gee aan die tema van vanjaar: Samewerking vir 'n beter toekoms.

Volgende jaar is dit weer iemand anders se beurt om die konferensie aan te bied.

Kom geniet 'n kort video waarin 'n paar van ons bedrywighede gewys word. Ons Naaldekokerdae bly heerlike informele pretdae. Ons leer baie van en by mekaar. Ons takvergaderings word elke derde Dinsdag van 'n maand gehou. Die sameroeper sorg vir 'n interessante aanbieding en word deur twee of drie gasvroue bygestaan. Elke bestuurslid kry 'n beurt om sameroeper te wees. Weer eens leef ons die VLU- tema met vreugde uit!

Om aan die VLU te behoort, is en bly 'n groot lekkerte! Daar wag altyd iets interessants om die draai. Die takkompetisies val in almal se smaak, want vir elkeen is daar iets wat 'n uitdaging bied. As jy nie lief is vir naaldwerk nie of jou verbeel dat jy dit nie kan baasraak nie, is daar altyd nog dinge soos skryfwerk of fotografie, handvlyt, hekel, brei, skilder...te veel om op te noem.
Tydens konferensies en kongresse word ook hegte vriendskapsbande met lede van ander takke en streke gesmee en heerlik saamgekuier.