Tuesday 23 August 2016

Heleen se praatjie


Heleen Hertzog is by ons almal bekend. Sy is reeds 50 jaar lid van Van Riebeecktak en het al diep spore getrap. Tydens ons Augustus-vergadering was dit ‘n voorreg om na haar baie interessante vertellings oor kuns en kunsgeskiedenis te luister. Die tema:  “Hoe waardeer ek kuns?” is deeglik en met genoeg humor bespreek.
“Ons almal het kuns in ons, ons moet dit net ontdek. ‘n Musikant het note nodig, ‘n skrywer woorde, ‘n skilder inspirasie, verbeelding en drome…
Kuns is ‘n persoonlike ding, kunswaardering ook. Gedurende die antieke tye was erdewerk en houtkuns goedkoop. Openbare geboue is ook ‘n kunsvorm.

Kuns verskaf ‘n manier om uiting te gee aan jou verbeelding en dit bring die kind in ons na vore. Om volwassenheid te bereik en steeds kontak met die kind in jou te hou, maak ‘n mens gelukkig. Skilderkuns, rituele, uitvoerings en danse…dit is alles vorms van kuns. Kuns is ‘n vorm van vermaak. Dit het helende en sielkundige doeleindes.”
Heleen vertel van die Louvre in Parys, die wêreld se grootste museum en historiese monument asook Mona Lisa, halflyf portet van ‘n vrou deur Leonardo da Vinci wat as die bekendste kunswerk in die ganse wêreld beskou word en wat sy en haar kleindogter die voorreg gehad het om te kon besoek. Michelangelo, 'n Italiaanse skilder, beeldhouer, argitek, digter en ingenieur wat tydens die Renaissance aktief was, Picasso en Vincent van Gogh word ook bespreek.

Vincent van Gogh se woorde: “I sometimes think there is nothing so delightful as a drawing” asook Tomothy Nero: “om te teken, hou jou oog wakker, jou gedagtes lewendig en jy word nederig” is steeds woorde wat inspireer. Dit is eers as ‘n mens begin teken, dat jy met oop oë kyk.

Heleen gesels oor die geskiedenis van kleur en bemarking. Sy vertel van haar eie kunsgroepie en die helende uitwerking wat dit op almal het wat die klas bywoon. Om te belê in kuns is ‘n persoonlike keuse. “Koop waarvan jy hou, werk aan ‘n versameling van ‘n verskeidenheid.” Gee verf en papier aan ‘n kleuter en jy gee aan hom ‘n voorsprong.
Pierneef, wat as die beste landskapkunstenaar in Suid-Afrika beskou word, se lewensverhaal word vertel. Lees hier meer oor hom: Pierneef
Nogmaals dankie vir ‘n kleurvolle en baie inspirerende oggend tydens ons takvergadering by Oude Werf.
(Heleen se boeiende praatjie is opgeneem en beskikbaar op cd indien jy belang stel.)
Elizabeth Kendall (skakelbeampte)

 

No comments:

Post a Comment