Thursday 8 March 2018

TAKGESKIEDENIS VAN RIEBEECK.


Maria van Riebeecktak is op 2 Februarie 1952 gestig, drie honderd jaar nadat Jan van  Riebeeck aan die Kaap geland het. Dit is eintlik beskou as die herstigting van die Erasmustak wat in die dertigerjare doodgeloop het. (Mev. Mes was destyds die hoofbestuurslid.) Die stigtingsvergadering is op ’n plaas in die Jakhalsfontein omgewing gehou. Mev. A. Zeeman is verkies as voorsitter, A. Meyer was die sekretaresse en mej. Lettie du Preez die tesouriere. Daar was twee-en-twintig lede.



Hierdie tak het ’n baie prominente plek in die dorp beklee en het die voortou geneem met heelwat aangeleenthede wat tot voordeel van die dorp gestrek het, soos die ontstaan van die skietklub en die verplegingsdiens waaruit “Ons Herberg”, die plaaslike ouetehuis, begin is.
Opvolgers van mev. Zeeman (1952-1958) is mevv. A. Meyer (1958-1959), L. Claassen (1959-1964), B. Hoffmann (1964-1970), J. Schutte (1970 -1971), H. Booysen / Fortred (1971-1975), S. Du Plooy (1975-1977), S. Engelbrecht (1977-1978), S. Bouwer (1978-1980), T. Murray (1980-1983), M. Cilliers (1983-1987), L. Nel (1987-1988) en H. Benadé (1988-1992).
Op 2 Februarie 1993 het Kosmostak (waarvan die lede grootliks uit plaasvrouens bestaan het), ontbind en op 16 Februarie 1993 saamgesmelt met Van Riebeecktak.
Mev. Erna Venter (1992-1995) was die eerste voorsitter van hierdie groter tak. Haar opvolgers was mevv. H. Hertzog (1995-1998), A. Oelofse (1998-2002), R. Carstens (2002-2003), M.Stavast (2003-2006), A.van Zyl (2006), W. Geyer (2007-2012), E. Kendall (2012-2016) en S. Ferreira (2016 –


In Bronkhorstspruit is die VLU deur al die jare sinoniem met interessante funksies, deeglikheid en uitstekende prestasies. Ons kyk met trots en groot waardering terug na ons voorgangers. Ons sien met volgehoue entoesiasme uit na die toekoms.

Elke tweede Dinsdag van 'n maand kom ons op informele wyse bymekaar. Ons doen allerlei kreatiewe dinge of kuier net gesellig saam. Ons noem dié dae ons Naaldekokerdae. Dit is dus paslik om ook 'n NAALDEKOKER op ons vaandel te hê! 

 Die idee met die maak van ons splinternuwe vaandel, was om soveel moontlik lede betrokke te kry. Skoenlappers en blommetjies is deur verskillende lede eiehandig gemaak. Gehekel, gebrei, borduur.

 Pragtige werk! 



VAN RIEBEECK EMBLEEM:

Die embleem dui op twee aspekte van belangrikheid:
1. Die hand - dit beeld hande-vashou (samesyn) uit asook die handwerk wat deur lede gedoen word.
2. 'n sirkel wat onderlinge eenheid uitbeeld
Die twee figure/ silhoeëtte is doelbewus so uitgebeeld om te beklemtoon dat geen vrou in die VLU alleen staan nie. Sy word altyd deur haar vriendinne ondersteun.
Daar is 'n skoenlapper in die voorste figuur (vrou) se hare wat 'n simbool van verandering, vreugde en kleur is. Die skoenlapper word as 'n wonderwerk van transformasie /verandering /vernuwing beskou.  Die veelkleurige reënboog van verfdruppels agter die silhoeëtte dui op kleur, kuns en kreatiwiteit, terwyl dit die sirkel simbool van eenheid herhaal en beklemtoon.

Bg. embleem word as briefhoof by korrespondensie gebruik. 


No comments:

Post a Comment