Thursday 16 November 2017

Betekenis van die kersboom

VERTELLING soos deur Dr. Tertius Erasmus voorgelees tydens VLU Van Riebeeck se Senior Burger Funksie op 14 Nov. 2017.

Die jaar het verbygevlieg en dis amper Kersfees. Hierdie jaar het Oupa en Ouma by hulle kinders en kleinkinders kom kuier. Hulle was so lanklaas hier.  Die kleinkinders het besluit om vanjaar self die kersboom te versier en op te sit. Hulle het nou al so baie gesien hoe Ma en Pa dit doen en toe November aanbreek, is die boompie opgesit. Nou die ander aand baie laat, lê die kinders so lekker op die bank by Oupa en hy vertel vir hulle die storie van die kersboom met al die versierings daarop. Hierdie storie kom al ‘n lang pad. Hy het sommer baie ernstig gelyk terwyl hy met hulle gepraat het.
En weet julle wat het Ouma vir Oupa gesê? Sy't gesê: “Vertel vir die kinders van Kersfees. Vertel hulle wat Kersfees regtig beteken, want so baie mense het deesdae al vergeet wat Kersfees eintlik beteken.”



Eers wys Oupa na die kersboom en hy sê vir hulle: “Die naalde van 'n kersboom bly die hele jaar lank groen om ons daaraan te herinner dat Jesus gesorg het dat ons die hele jaar lank hoop kan hê en die spits van die denneboom wys boontoe om so vir ons te wys dat die hoop wat ons het, van die hemel af kom.”



Toe begin hy een na die ander versierings van die kersboompie afhaal en gebruik elkeen om vir hulle iets te sê. Eers vat hy 'n blink ster en hy sê vir hulle: “Die ster was lank terug 'n hemelse teken van ‘n belofte wat God gemaak het. Hy het belowe dat Hy 'n Verlosser na die wêreld toe sou stuur en die ster was die teken dat Hy sy belofte nagekom het.”
Daarna haal Oupa 'n engel van die boom af: “Dit was die engele wat heel eerste vir ons vertel het watter wonderlike ding gebeur het toe Jesus gebore is. 'n Hele hemelkoor van hulle het gesing: “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir dié mense in wie Hy 'n welbehae het!”
Toe vat hy 'n kers en hy sê : “Die kers beeld vir ons uit dat Jesus die Lig vir die wêreld is en wanneer ons die lig sien wat 'n kers maak, sê dit vir ons dat Jesus die donker van die sonde weggevat het.”


Toe vat oupa van die boom een van daardie kerskransies wat die mense so graag in Kerstyd opsit en hy sê : “Hierdie krans leer vir ons en wys vir ons hoe ware liefde werk, dié liefde wat ons by God sien en wat ons ook teenoor mekaar moet uitleef. Dit het nie 'n begin nie en dit het nie 'n einde nie. Dit hou net aan en aan. Liefde is 'n volmaakte sirkel van omgee vir ander mense.”



Geskenkies moet ons ook herinner dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê. Dis die grootste geskenk wat God ons gegee het.  En soos die wyse manne die beste geskenke gegee het wat hulle kon, goud, wierook en mirre, so moet ons vir God altyd die beste gee en ons beste doen om so dankie te sê vir wat Hy klaar vir ons gedoen het.


Die volgende ding wat die Oupa van die boompie afgehaal het, was een van daardie suikerstokkie-kierietjies waarmee kersbome versier word.  Hierdie lekkertjie herinner aan die staf wat herders in die ou tyd gebruik het om hulle skape nader te trek om hulle so te beskerm, so te red van gevaar. Dis presies wat God gedoen het toe Jesus gebore is. Hy het ons weer na Hom te getrek, Hy red ons van ons sondeskuld. Maar ons moet ook dieselfde doen - ons moet omgee vir en omsien na almal wat God op ons pad laat kom.


Met 'n sagte geklingel haal Oupa 'n klokkie van die kersboompie af:  Soos 'n afgedwaalde skaap opgespoor word deur die geklingel van die klok wat om sy nek hang, so het Jesus ons wat afgedwaal het, weer teruggebring na God toe. Dis waaraan die klokkie op die kersboom julle moet laat dink.
Heel laaste vat hy een van daardie snaakse blaartjies waarmee kersbome altyd versier word.  In Engels noem hulle dit ''holly'', in Afrikaans is dit 'n ''huls''-blaartjie. Dis 'n blaartjie wat sulke rooi bessies het en ook nogal skerp dorings ook aanhet.  Hierdie blaartjies vertel vir ons wat hierdie Kindjie wat in die krip gebore is, uiteindelik vir ons gedoen het. Hy het aan die kruis gesterf vir ons sondes. Die dorings aan hierdie blaartjie herinner ons aan die doringkroon wat Hy vir ons gedra en die rooi van die bessies herinner ons aan sy bloed wat vir ons sondes gevloei het.


Toe sê die Oupa: “Ek het nou genoeg gepraat. Maar, groot asseblief, groot asseblief, onthou om dit ook eendag vir julle kinders te vertel, sodat hulle ook kan weet waaroor Kersfees eintlik gaan.”
Dis 'n werklikheid dat kersbome en kersversierings deel is van hoe ons Kersfees vier, alhoewel hierdie dinge niks met die eintlike betekenis van Kersfees te make het nie. Dis baie keer al wat mens sien as dit Kerstyd is. Ons kan al hierdie dinge gebruik om ons te herinner waaroor Kersfees regtig gaan. (dennenaalde, ster, liggies, geskenke, herderstaf en klokkie)

Die Seun van God kom by ons woon, op aarde God se beeld vertoon. Die Woord word mens: Die Hemelheer, God sélf daal in ons armoede neer.  Roem almal Sy geboortedag - Sy Lig verdryf die sondenag.  Juig, mensdom, loof u Koning saam, groot is sy Naam bo elke naam.  Ons almal moet dit oorvertel.

1 comment:

  1. Dankie vir die oulik en tog ware uitkyk. Ek het vir my kinders ook bygevoeg: die ster herhinner ons aan lig, Jesus is die lig, weg en waarheidd. Dis al hoe ons by God die Vader kan kom. Hy het ons kom wys hoe en ons moet skyn en ander die Weg wys, na Jesus wys. Die takke, blare, vrug wat boom dra herhinner ons wat het Jesus hier kom doen op aarde, ons kom wys hoe om gaaf, goedhartig, liefde te wees - gee koelte dat mense by jou kom sit, deel vrugte (kos vir liggaam, armes) en evangelie. Ook vrug vd Gees wees en uitdeel(presente) vir ander, soos Jesus. n Boom en takke gee lewe, bring verligting, veiligheid soos Jesus. Die hout van die boom herhinner ons aan die kruis wat sou kom waaraan Jesus gestref het vir ons sonde.

    ReplyDelete