Monday 1 February 2016

Voël van die jaar: Versamelvoël (philetairus socius)

In die VLU gee ons elke jaar aandag aan die voël van die jaar. Vanjaar kry die versamelvoël 'n beurt.

'n Klein voëltjie met ‘n “reuse-persoonlikheid” van die dorre Noordwes-Kaap is vanjaar Birdlife SA se voël van die jaar. Die versamelvoël het ‘n komplekse en interessante sosiale lewe, sê Mark Anderson, uitvoerende hoof van Birdlife SA.

Die voël weeg 29g, maar bou die grootste neste. ‘n Nes kan selfs 1000kg weeg en tot 500 inwoners hê. Ander diere, soos klein valkies, slange, akkedisse en perdebye, woon soms saam met versamelvoëls in hul neste.

“Niemand kan die Kalahari besoek en die versamelvoël se neste miskyk nie. Die massiewe neste lyk soos hope hooi wat aan telefoonpale of in bome hang. Dié neste het talle funksies, soos om die voëls teen temperatuuruiterstes in woestynagtige gebiede te beskerm.”
Die versamelvoël kom veral in die Kalahari voor.

Birdlife SA wys ‘n voël van die jaar aan om mense bewus te maak van die bewaring van die voël en sy habitat, sê Anderson.

Birdlife SA gaan vanjaar oral in die land veldtogte ter bewusmaking van die versamelvoël hou, maar ook van wewers in die algemeen, wat wyd oor die land heen versprei is.
Bron: Beeld  29 Januarie 2016. Verslaggewer: Elise Tempelhoff. 
Foto: Internet.


No comments:

Post a Comment