Thursday 21 January 2021

Wees gegroet!

Dit is die jaar 2021. Die VLU leef steeds vrolik voort. Hierdie is my eerste blog-inskrywing vanjaar. Ek vermoed daar gaan heelwat meer volg. Ons kommunikasiekanale het mos nou verander.

Om skakelbeampte te wees van Van Riebeecktak is vir my 'n groot eer.  (Ek kon vir twee jaar "rus"en was net 'n gewone taklid.)

Met 'n lied in my hart sal ek poog om op elke denkbare manier om te gee, dinge van belang te deel en die wêreld vir ons almal interessanter te maak. Synde geheel die land in 'n grendelstaat is. Vlak 3. Beperkte beweging. Gekortwiek op baie maniere. Maar nooit moedeloos nie. 'n VLU-vrou maak mos altyd 'n plan. Die tegnologie stel hoër eise aan ons vaardighede. "Algaande leert men." Niks is onmoontlik nie. 

Ons kon nie 'n jaarvergadering hou nie. Ons mag tans geen vergadering hou nie. Om 'n foto van die huidige bestuurslede te neem, was dus onmoontlik. Gelukkig is daar baie maniere om 'n kat dood te maak.... direk vertaal uit die Engelse spreekwoord! 


Ons bekwame voorsitster, Sally Ferreira en Alda van der Merwe, ons kompetisiesekretaresse, het koppe bymekaar gesit en op die 19e Januarie kon ons heerlik in die gemak van ons eie huis sit en luister na die jaarverslag asook die prysuitdeling beleef. Knap gedaan Sally en Alda! Van Riebeecktak is sommer baie trots op julle! 

Ons gaan dus ook vanselfsprekend meer van facebook en whattsapp gebruik maak om met mekaar te kommunikeer. Dis nou as die krag nie afgaan vir 'n hele dag nie! 




Mag ons altyd weet en onthou dat ons Vader in die hemel ons nooit bo ons vermoëns sal beproef nie, dat Hy ons daagliks sal toerus met genoeg krag, wysheid en moed om enige struikelblok te oorkom. Mag 2021 vir ons almal 'n geseënde en 'n mooi jaar wees. Mag die VLU steeds verrykend, leersaam en inspirerend wees soos dit in die verlede was. 

VLU groete, Elizabeth Kendall (skakelbeampte)